Analize Viljoen – Boeke en skryfwerk
Analize Viljoen is ‘n Afrikaanse skrywer van verhoudings en liefdesromans. Haar debuutroman was Oor en weer, wat sy saam met Trisa Hugo geskryf het. Die boek was op die kortlys vir ‘n ATKV Woordveertjie in 2021, saam met KanaƤn van Sophia Kapp en Corali, deur Chanette Paul.
Daarna het Lapa Uitgewers vir Analize opdrag gegee om die eerste lesbiese Romanza te skryf, en die uiteinde was Kleur en karamel. Romanza is die handelsmerk van Lapa se baie gewilde reeks liefdesverhale. Die gedrukte opgawe is reeds uitverkoop, maar Kleur en karamel is steeds as e-boek beskikbaar op Amazon.
Vir die derde boek, Oop deure, het Analize en Trisa Hugo weer saamgespan en die boek is deur Naledi Uitgewers uitgegee in 2024.
Analize is tans byna klaar met ‘n opvolg van Kleur en karamel. Behalwe daarvoor het sy ook besluit om ‘n genresprong te doen in die manuskrip waaraan sy tans werk. Ons wag in spanning om te sien wat dit gaan wees!
Analize skryf ook resensies en doen boekgesprekke met ander skrywers. Haar kortverhaal, Die Pan was in 2025 gekeur vir PEN Afrikaans se kortverhaalkompetisie.
Analize en Trisa het ook ‘n aanlynbundel – Aanlyn 1 – saamgestel en dis uitgegee deur Viva Uitgewers. Die boek is beskikbaar op Viva se platform, met ‘n klankbaan van die verhale.
Analize bedryf Boekemakranka saam met Trisa Hugo. In die 2020 inperking het Boekemakranka begin met die eerste regstreekse aanlynboekgesprekke op Facebook en Youtube. Dit het gebeur toe van die Suid-Afrikaanse skrywers se boekbekendstellings gekanselleer moes word oor die Covid pandemie. Analize en Trisa het dieselfde week nog begin om boeke aanlyn bekend te stel, en het nog nie weer opgehou nie. Hulle het in die tyd meer as honderd en dertig boekgesprekke met verskeie bekende skrywers gevoer.
