
Waarheen sal jou hart jou lei as jy braaf genoeg was om te volg? Wanneer ’n gebroke verhouding vir Hanri terugdryf na haar tuisdorp Swellendam, begin sy huise verf, vasberade om vroualleen ’n suksesvolle verfbesigheid staan te maak. Op ’n projek ontmoet sy vir Lily, ’n nuweling op die dorp wat ’n koffiewinkel en bakkery kom oopmaak. Van die begin af is Hanri gefassineerd deur Lily, al probeer sy haar hart keer. Lily stel nie belang nie en vind nog haar voete ná ’n egskeiding. Wanneer Hanri se beste vriend, Hein, vir Lily begin uitneem, lyk dit asof dié twee ’n verhouding aanknoop. Hanri wil nie vir Hein as vriend verloor nie, maar kan ook nie haar gevoelens vir Lily wegsteek nie. En vir derde wiel speel sien sy nie kans nie. Liefde is egter vreemd, en niemand kan voorspel waar die hart jou sal lei wanneer jy begin luister nie.
Amazon and Kindle
Koop die e-boek, of lees die eerste deel gratis voordat jy koop.
Kleur en karamel was reeds onder bespreking in ‘n aantal akademiese artikels oor seksualiteit en diversiteit in Afrikaanse boeke.
Die volgende artikel het op Litnet verskyn, oor Kleur en karamel.
Van Lekkerlees lesbiese leesstof tot Letterkundige navorsingsartikel
Vir wie is die liefde beskore? Almal se eerste gedagte is sekerlik: vir ons almal. So maklik is dit egter nie. Nie as jy kyk hoe versigtig die uitgewersbedryf kwessies rondom gay mense oor die algemeen hanteer nie. Reney Warrington se Smit Motors is uitgegee onder die Wenkbrou druknaam van LAPA. Wat was daar in die boek waaroor ʼn wenkbrou gelig kon word? Niks, behalwe ʼn gay karakter nie.
Daar het die afgelope tyd verskeie boeke uitgekom wat meer openhartig omgaan met genders, geslagsrolle, gays en trans-karakters, asook meer diverse kulture. Dink maar aan Robert Hamblin se Robert, Ben Viljoen se Vloek van Levitikus en meer onlangs Bottelnek Breek bek van Dianne Du Toit Albertze en Hoerkind van Herman Lategan. In 2020 was daar Oor en Weer van Trisa Hugo & Analize Viljoen. Daarna volg Analize met Kleur en karamel wat bemark is as die eerste lesbiese Romanza.
Wat my geskok het, was om uit verskeie oorde te hoor dat die boek nie beskikbaar is by sekere boekwinkels nie. Mense het gesukkel om dit in die hande te kry.
In ʼn artikel beklemtoon Cliffordene Norton ook die belangrikheid van diversiteit in Afrikaanse boeke en sê dat “daar gereeld boeke met diverse karakters in terme van ras, kultuur of seksualiteit soos byvoorbeeld: Smit Motors onder ons Wenkbrou-druknaam en Oor en weer van Trisa Hugo en Analize Viljoen.” Verwysende na Lapa Uitgewers). (Norton, 2021)
LGBTQI+-bewusmakingsveldtogte daag ons dikwels uit om ons siening rondom geslag, gender en seksualiteit te bevraagteken en indien nodig, aan te pas. Maar wat is die rol van literatuur om mense se siening te beïnvloed en selfs op te voed waar nodig?
Hannah Weber is van mening dat letterkunde, as deel van ‘n groter kulturele liggaam, beide opvoedkundig en vermaaklik is, en die mag het om persoonlike begrip te fasiliteer en sosiale kohesie aan te moedig. (Weber, 2012)
Uit hierdie definisie sou mens kon aflei dat boeke in enige genre wat deel is van die groter kultuur, by magte is om mense op ʼn doodnatuurlike manier begrip te gee vir die wêreld van iemand wat anders is as jyself.
In ʼn artikel deur dr Ilse de Korte en Andrew Sutton, word daar deur middel van die teoretiese raamwerk van seksuele draaiboekteorie, ʼn diskoersanalise van Analize Viljoen se Kleur en karamel gedoen word om die draaiboeke van die fiksionele karakter in die verhaal te bepaal en hoe dit inpas by die werklike draaiboeke van lesbiërs, soos bepaal in Rose en Zand se 2002 ondersoek. “Die seksuele draaiboek kan beskryf word as ʼn versameling inligting wat individue help om te bepaal wat aanvaarbaar is binne hul spesifieke sosiale kontekste in terme van gedrag, rol en die uitbeelding van ʼn persoon se seksuele self.” (de Korte & Sutton, 2021)
De Korte en Sutton kom tot die gevolgtrekking dat Kleur en karamel die basiese werklike lesbiese “dating script” volg wat deur Rose en Zand (2002) geïdentifiseer is. Hulle bevinding was: “Most lesbians did not adopt active versus reactive roles in dating. However, those who did rejected heterosexual notions of the woman as the sexual limit-setter. Age and lesbian dating experience also were found to be related to initiating sexual intimacy.” (Suzanna M Rose, 2008)
De Korte en Sutton sê ook dat die tradisionele vroulike seksuele draaiboek van selfonderwerping en onderdanigheid wat dikwels in romantiese fiksie voorkom, nie hier ter sprake is nie. Nie net word tradisionele genderrolle verwerp nie, maar sowel Lily en Hanri nie, maar ook Nicolene word as sterk en onafhanklike besigheidsvroue uitgebeeld.
“Kleur en karamel herskryf dus op ʼn unieke manier die Westerse, heteronormatiewe tendense waaroor Ménard en Cabrera hipotetiseer (2011) en normaliseer op vele vlakke die lesbiese draaiboek vir die leserspubliek.” (de Korte & Sutton, 2021)
In ʼn aanlynonderhoud oor die boek noem Viljoen dat Kleur en karamel net ʼn liefdesverhaal is soos enige ander, die hoofkarakters is net toevallig twee vroue. (Boekemakranka, 2022)
In ʼn ander telefoononderhoud noem sy ook dat sy die verhaal geskryf het bloot soos wat sy die wêreld van die lesbiese vrou leef, beleef en in haar vriendekring waarneem. Sy het geensins probeer om die karakters is enige boksie te plaas, of spesifieke “gay” optrede van die karakters nie. Dit is ʼn segment van die lewe, ʼn liefdesverhaal soos enige ander.
Wat betref die boek self: Kleur en karamel is die lekkerste Romanza wat ek seker nóg gelees het. Dit voel soos karakters wat ek ken. Die boek speel af op plekke wat ek ken, die mense praat my taal en ek kon met elke karakter identifiseer. Vir Nicolene kon ek hoor, dis asof ek haar wou vra om my te leer kerrievis maak vir die Pase, asof sy in my dorp woon. Hanri, Lily en Hein voel soos vriende.
Hierdie Romanza is regtig eietyds, al is dit bemark as lesbiese Romanza, is daar baie ander verhoudings ter sprake. Verhoudings tussen vriendinne en vriende, mense van verskillende ouderdomme, rasse, geslagte en genders. Presies soos die lewe self is. Daar is net soveel draadwerk en misverstande ook.
Anschen Conradie sê: “Hierdie boek word bemark as die eerste lesbiese Romanza en, tereg so, maar dis baie meer. Ek is altyd ligweg bekommerd as daar soveel verwagtinge ten opsigte van ʼn boek geskep word; as dit lesers nie geval nie, loop die arme skrywer en uitgewer gewoonlik kwaai deur. ʼn Ander risiko is natuurlik dat die feit dat dit as sodanig geëtiketteer word, die skrywer in die versoeking kan stel om daardie aspek van die boek te oorbeklemtoon.” (Conradie, 2022)
In Kleur en Karamel is dit egter geensins die geval nie. Die feit dat die twee hoofkarakters gay is, het geensins die trant van die verhaal beïnvloed nie.
Alhoewel Romanzas aan sekere vereistes moet voldoen en daar ook beperkings is, lees Kleur en karamel glad nie resepmatig nie. Dis lekkerlees op die naat van jou rug onder ‘n koelteboom. Jy lees so lekker aan die storie, dat jy nie agterkom daar is ook ʼn tema van bemagtiging van vroue dwarsdeur die verhaal is nie. Kos, kleur en musiek in speel ʼn belangrike rol. Die boek was perfek om te lees terwyl die musiek waarna die karakters luister speel. Heerlike lekkerlees, met genoeg diepte om ʼn akademiese analise te regverdig. Kudo’s
(Kyk op YouTube of Spotify vir die speellys)
Hoeveel van Kleur en karamel verkoop het weet ek nie en dis ook nie my besigheid nie, maar dit is vir my vergelykbaar met die beginsel van die uitgee van digbundels of suiwer literêre werke, waar wins of verkope dalk nie die enigste beweegrede vir publisering is nie. Selfs uit ‘n bemarkingsoogpunt sou dit sin maak om eers die aanvraag te skep, en dan daaraan te voldoen deur ‘n reeks lesbiese lekkerlees-boeke. Hierdie is veral gesien in die lig dat die kwaliteit daarvan ‘n akademiese artikel in ‘n Literêre joernaal regverdig.
Trisa Hugo: (CIS-gender)
