Lees gratis! Analize Viljoen het dié kortverhaal geskryf in die eerste dae van die Covid 19 inperking.

Born to be brave, sê die woorde op die man se T-hemp. Elmarie vang sy oog en glimlag vir hom, ‘n klein glimlaggie wat amper nie wys nie, maar wat hy erken. Sy oë glimlag terug. Dis al wat sy kan sien. Die res van sy uitdrukking is versluier agter ‘n wit mediese masker. Sy wonder of mense dapper gebore word en of hulle later dapper word. Of dalk nie dapper word nie. Sy sit die bottel koffie in haar hand in haar mandjietrollie en loop doelgerig in die rigting van die ry waar hulle maskers sal aanhou. Vandat hierdie virus begin kop uitsteek het kom kyk sy maar vir maskers elke keer as sy in Checkers kom en en daarvan onthou, maar sover kon sy nog nie kry nie.
Sy kyk weer deur al die pille en medisyne en pleisters en verbande. Geen maskers nie. Sy sug. Wel, niemand weet in elk geval of maskers nou juis kan help of nie. Sy sou nietemin koop as daar was. Soms voel mens net veiliger agter ‘n masker, en dit tel seker vir iets, om darem veiliger te voel. Daar is ook niks hand sanitiser nie. Die goed vlieg deesdae uit die winkels uit so vinnig soos wat dit inkom. Sy frons bekommerd, en bly ingedagte voor die rak staan. Mens kan seker jou eie sanitiser maak? Sy sal moet uitvind hoe, en maar net hoop dit kos nie te veel nie.
‘n Man en vrou stoot ‘n trollie by haar verby. ‘n Trollie met ‘n dikbek kleuter en 6 groot pakke opgestapelde toiletpapier in. Hulle stop langs haar en die vrou begin kla oor daar nie sanitiser is nie. Dis alles húlle skuld. Elmarie wag nie lank genoeg om verder te hoor hoe húlle die hele land nog gaan opfok nie. Sy het nie die tyd of die lus vir sulke stories nie. Sy haas haar na die toonbank, en gooi sommer ‘n koerant ook in voor sy betaal en uitstap na haar motorfiets buite in die parkeerterrein.
Nou om al die goed by die huis te kry. Die twee glasbottels vol koffie kom in haar rugsak. Dis amper die enigste luukse ding wat sy haarself toelaat en sy kan eenvoudig nie bekostig dat dit breek in die motorfiets se topbox op die grondpad nie. Sy pak die groot, swaar goed eerste in die plastiekboks. Rys, mieliemeel, suiker, blikkies tamaties. Vandag het sy baie meer gekoop as wat sy gewoonlik koop. Boonop het sy ook besluit om haarself behoorlik te bederf, en sy het ‘n lekker groot, sappige T-been gekoop, wat sy nou maar alleen sal moet braai.
Winkels gaan toenemend plekke word om te vermy, so hoe minder sy uit hoef te gaan vir kos, hoe beter. Sy tetris die ander goed in elke beskikbare holtetjie in, en gespe dan die een karige pak toiletpapier, tien rolle, met bungy cords aan die sitplek vas, agter haar rug.
Die twee bosse spinasie kom ook in die rugsak, een aan elke kant, en steek bo uit soos klein boomtoppies weerskante van haar nek. Sy is lankal by die stadium verby wat dit haar pla as mense lag. Vreemde mense in elk geval. Soms voel sy nog so tikkie verleentheid as een van haar min vriende sê: “Jirre, Elmarie, jy lyk soos ‘n delivery man.”
As sy ‘n kar kon bekostig sou sy een gekoop het. Of as sy Uber kon bekostig om op en af mee te ry sou sy dit ook seker gedoen het. Maar nou ja, deesdae gaan sy ook maar nêrens en haar vriende het sy hóé lank terug laas gesien. Sy sien hulle in elk geval mos maar net as sý vir húlle gaan kuier. Met haar delivery bike. Of ‘n Uber vat tot by die taxi rank en dan ‘n stuk of twee, soms drie, minibus taxis wat haar buitekant hulle voorstede aflaai. Taxis word nie in die voorstede toegelaat nie, so dan Uber sy maar weer tot by hulle huise en bly sommer vir die hele naweek daar. Soms kom haal hulle haar darem ook by die taxistaanplek, dit hang af hoe laat sy daar aankom, en of dit nie in werktyd is nie. Gewoonlik is dit, want sy gaan maar vroeg, voor spitstyd wanneer almal van die werk af kom en mens lank staan en wag vir taxis.
Die voordeel daarvan is natuurlik dat sy lekker lang, warm storte kan vat elke dag, die hele naweek lank! In elk geval in die tye wanneer daar nie droogtes en waterbeperkinge is nie. Dan stort sy, in plaas van om te bad in ‘n vlak bad van omtrent twintig liter koue water, gemeng met die twaalf liter vuurwarm water wat uit haar draagbare, inplug geysertjie by haar pondokkie kom. Toe sy nog werk gehad het, en ‘n “gewone” huis in ‘n kompleks, het sy nooit kon dink ‘n uitgerekte warm stort sou ooit eendag soos die hemel self kon voel nie.
Sy is net ongelooflik dankbaar dat sy nou ten minste aanlyn kan werk. Soveel mense is werkloos, en vir te lank was sy een van hulle! Sy was baie gelukkig om uiteindelik ‘n maatskappy te kry vir wie sy aanlynkursusse kan ontwikkel, op ‘n kontrakbasis. UIteindelik is die klippekou van die laaste paar jaar darem verby. Sy werk nou wel net vier ure per dag aan die kursusse, maar sy werk van die huis af en dank haar sterre elke dag. Dalk, as sy mooi werk met haar geld, net dalk, kan sy oor ‘n jaar of so weer ‘n kar koop. Sy sal maar in die pondokkie moet bly vir nou, maar dis oukei. Sy het dit so gerieflik gemaak as wat sy moontlik kan, en dis nou haar huisie. Dis klein, en baie basies, maar dis ‘n dak oor haar kop.
Sy sou graag gou op die strand wou gaan stap het, maar sy moes vroeër daaraan gedink het. Dan kon sy eers gaan stap het en dan die goed gaan koop het, maar dis nou te laat so sy sal maar huis toe gaan. Op pad huis toe draai haar regterhand die petrol bietjie oop. Dis net 4 kilometer na die plot toe waar sy bly maar sy geniet die wind wat die valhelm teen haar gesig terugdruk en aan haar baadjie se moue en kraag pluk soos iemand wat jou aandag wil trek. Vir vier kort kilometers drink sy die vryheid in wat die motorfiets haar bied en glimlag binne-in haar valhelm.
By die huis was sy dadelik haar hande, pak gou alles weg, was weer hande en maak ‘n slaai en ‘n braaibroodjie. Die slaai is eintlik maar net ‘n paar goed wat sy opsnipper, sommer reg in ‘n bord in waaruit sy later gaan eet. Dan gooi sy ‘n glas wyn in uit die drie-liter boksie wat wat nou baie lig raak, vat haar foon en haar koerant, en gaan sit buite by die die tafel wat van die son al begin induik het soos ‘n uitgelêde matras. Sy maak ‘n klein vuurtjie met dennebolle en stukke hout wat onder die bome rondlê.
Sy kyk vlugtig na die hoofopskrifte in die koerant en vou dan die sagte bladsye weer toe. Die situasie, wat die hele wêreld elke dag verander, maak haar bang. Sy maak WhatsApp oop. Dan soek sy na Jessie se naam en stuur vir haar ‘n boodskap. Sy hoop maar Jessie is oukei. Jessie het ook haar werk verloor ‘n tyd gelede, en sopas ‘n nuwe werk begin . Sy was die laaste paar dae nogal depressief oor al die nuwe aanpassings.
Sy het in die tyd wat sy werkloos was ‘n goedkoper blyplek gekry en ‘n maand of twee, drie gelede ingetrek. Elmarie het nog nie eens die plek gesien nie. Jessie is haar beste vriendin. Die een persoon wat moeite doen om haar te sien. Hulle het mekaar al deur baie traumatiese ervarings en liefdes en eindes van liefdes gedra en gesleep waar dit nodig was. Die laaste tyd kon Jessie nie eens petrol bekostig om juis te kom kuier nie en Elmarie het haar net een maal gesien in die maande wat sy nie werk gehad het nie.
Haar foon lui en sy sien dis ‘n video-oproep. Sy antwoord en probeer die foon staanmaak teen die muur agter die tafel, maar die foon val vooroor.
“Ouch! My neus!” roep Jessie uit.
Hulle albei lag. Elmarie vroetel weer met die foon, en die keer bly hy staan.
“Moet my nou nie weer op my neus laat val nie! Ek bel sommer, ek het gedink dis makliker as om te tik. Wat maak jy?”
“Ag ek het gaan opstock op kruideniersware vanmiddag. Nou gaan ek braai.”
“Lekker!” Jessie lag weer. “Hoeveel toiletpapier het jy gekoop?”
Elmarie rol haar oë en vertel vir Jessie van die gesin in die winkel.
“Ek verstaan regtig nie die toiletpapierding nie! Maar genoeg daaroor.” Sy lig haar glas. “Gaan kry vir jou ook ‘n glas wyn, ek wil nie alleen drink nie.”
Jessie trek ‘n hartseer gesig.
“Ugh, ek het niks meer wyn nie! Maar wag, ek dink daar is nog ‘n Storm iewers in die yskas. Ek kom nou!”
Sy is bly om te sien Jessie lyk, en klink, darem beter.
“Cheers!” Jessie lig die Storm botteltjie toe sy weer op Elmarie se foonskerm verskyn.
“Cheers!”
Vir amper ‘n halfuur gesels hulle so oor die foon se videoskerm, oor alles en nog wat. Uiteindelik sug Elmarie weer.
“Ek mis ons trips. Om sommer net uit te ry Franschhoek toe en iets gaan drink. Of eet… Nie dat ons dit ooit regtig kan bekostig nie, maar ons het darem so nou en dan ‘n broodjie of iets bestel. Dis so flippen vervelig by die huis die hele tyd, en om nêrens te kan kom nie, en niemand te sien nie.”
Jessie sug ook op haar beurt.
“Ons gaan baie gou weer gaan, jy sal sien. Ten minste kry ek darem nou weer ‘n pay check. Kom ons kyk of ons die naweek iets kan doen. Dit sal lekker wees om jou te sien.”
Elmarie knik.
“Ja, dit sal lekker wees. En die volgende een is op my. Ons bederf onsself bietjie! Maar wag, van bederf gepraat, laat ek my vuurtjie regkry en gou daai steak en my broodjie braai. Die president praat nou-nou met ons, dan wil ek klaar wees.”
“Ja, ek dink nie dit gaan goeie nuus wees nie… Anyway, lekker slaap, ons praat gou weer.”
Toe Elmarie klaar geëet het sit sy die paar goed in die wasbak en besluit sy sal dit later was. Of dalk eers môre. Dis so min. Een bord, ‘n mes en vurk, ‘n braaitang en die klein snyplankie, skerp mes en rasper wat sy gebruik het om die slaai en broodjie te maak. Dit lyk sommer eensaam in die wasbak en sy is nie nou lus om dit te sien nie. Sy gaan eers gou bad en haar nagklere aantrek, dan is sy reg vir die president se speech.
Sy kry haar skootrekenaar reg, met die nuus-webblad oop, en gaan sit sommer in die bed. Die president is laat, so sy lees solank ‘n e-boek op haar foon.
Meneer Ramaphosa lyk statig, maar bekommerd as hy uiteindelik op die skerm verskyn. Sy hou aan lees en kyk en luister maar so met een oog en een oor na die president. Dan sit sy skielik regop, sit die foon neer, gryp die muis en kliek Cyril Ramaphosa se stem harder.
“The National Corona Virus Command Council has decided to enforce a nationwide lockdown for twenty one days, with effect from midnight on Thursday the 26th of March…”

Leave a Reply