
Meer oor Analize
Analize Viljoen is in Parys in die Vrystaat gebore, en na baie omswerwinge, reise en huise in vyf lande en baie stede en dorpe, maak sy Parys nou weer haar tuiste. Sy bly in ‘n huis naby die Vaalrivier saam met haar honde, met wie sy gereeld gaan stap. Die skrywer kook graag en is op ‘n missie om alfabeties deur elke land in die wêreld te kook. Sy het reeds kos gemaak van lande wat sy nooit eers geweet het bestaan nie – soos Kiribati.
Een van die goed wat haar die meeste verbaas het, is dat Kanada die een land is waarvan jy nie juis tradisionele bestanddele in Suid-Afrika kan kry nie. En as jy dit kry kan jy dit skaars bekostig! Moose harte, (‘n Moose is blykbaar ‘n Amerikaanse eland in Afrikaans!) regte maple stroop, gerookte wildsvleis, haasvleis, en fisant is net nie geredelik beskikbaar nie. Daarenteen is dit maklik om ‘n Oos-Europese, Suid-Amerikaanse, of Asiese dis aanmekaar te slaan met goed wat baie kokke deesdae in hul spense het.
Analize roei graag in haar kajak, ry fiets, stap en lees baie. Soos die meeste mense kyk sy ook graag flieks en reekse, en glo aan duvet dae in die bed met ‘n goeie reeks elke nou en dan. Sy geniet iets van alles – populêre reekse, kunsfilms, Masterchef Australia en soms ook meer intellektuele vermaak, maar haar guilty pleasure is hospitaalreekse. Wanneer die paw-paw die fan strike, kyk sy Grey’s Anatomy. Dis soos om troos te soek by ou vriende. Analize het ook ‘n groentetuin waarin sy baie tyd spandeer. Sy gee Engelse klasse aan studente regoor die wêreld om die pot aan die kook te hou.
Sy hou daarvan om mense te ontmoet en te kuier, en gesels graag met die lesers van haar boeke, resensies en kortverhale.
Analize Viljoen
Voor die boeke…
Voor Analize begin het om boeke te skryf en aanlyn klas te gee het sy in die televisie en filmbedryf gewerk. Sy het ook webwerwe en sosiale mediabemarking gedoen.
Suid Afrika
In Suid Afrika het sy hoofsaaklik gewerk aan TV reekse. Een daarvan was Katinka Heyns en Simon Barnard se ‘n Lewe Met… Die reeks het gehandel oor geestesgesondheid, en elke episode het ‘n ander titel gehad. Titels was bv: ‘n Lewe met bipolêre versteuring, ‘n Lewe met post-traumatiese stresversteuring ens. Analize was betrokke by die navorsing en draaiboek toesighouding.
Analize het ook gewerk aan Solving It, ‘n doku-dramareeks oor Suid-Afrikaanse misdade. Sy het regie, onderhoudvoering, en navorsing behartig vir die reeks.
Analize het die tekste geskryf vir meer as 40 kort insetsels wat op Standard Bank se kanaal gespeel het in hul banktakke.
Singapoer en Maleisië
Voor dit, in Singapoer, het Analize die konsepontwikkeling en regie gedoen van vele musiekvideos. Dit was nogal ‘n uitdaging, want dit was in Tamil, vir die plaaslike Indiese kanaal, Channel 8. Sy praat wel nie die taal nie, maar het met die vervaardiger saamgewerk en die konsepte in Engels geskryf en verduidelik. Dit was moontlik omdat daar geen dialoog was nie; dit was net nodig om die strekking van die lirieke te verstaan, en dit kon die vervaardiger duidelik maak. Soms het sy agter die kamera ingeklim, en die kamerawerk behartig. Analize sal nooit vergeet hoe sy op Mount Faber in Singapoer rondgeloop het met ‘n 12kg Betacam op haar skouer, op ‘n dag toe dit 39 grade was met hoë humiditeit nie!
Sy het ook insette gedoen oor toerisme in Maleisië, wat in Suid-Afrika op KykNET uitgesaai was. Daar het sy benoude oomblikke beleef in ‘n uitgeholde boomstomp kanoe. Die boot sit so laag dat jy byna in die water sit met die duur kameratoerusting. Hierdie tog in Borneo, om die Orang Asli, ‘n inheemse stam wat in die woude woon, te gaan soek en afneem, is een van die beste herinneringe van haar loopbaan. Dan was daar ook die keer toe sy duiselingwekkende hoogtes bereik het… Letterlik! Toe sy en ‘n ander kameraman aan die buitekant van die Kuala Lumpur Menara rondgeloop het met die stad ver onder hulle. Sy het ook in die boomtoppe van Borneo, 100m bokant die grond, op toulere rondgeklouter met die kamera. Nogal ‘n prestasie vir iemand met hoogtevrees, maar nie juis iets waaraan Analize noodwendig graag terugdink nie!
In Singapoer het Analize ook aangesluit by die Singapore Photographic Society, en het ‘n Licentiate Distinction behaal met ‘n versameling van haar digitale foto’s.
Dubai
Een van die hoogtepunte van Analize se werk in Dubai was dat sy die lynvervaardiger was vir die bekende filmmaker en digter, Nujoom Al Ghanem, se film, Sounds of the Sea. In Dubai het Analize ook die teks geskryf en regie gedoen vir ‘n aantal TV advertensies, onder ander vir Continental Coffee en ander plaaslike produkte. Sy het vryskutwerk gedoen as kamerapersoon, produksiebestuurder of lynvervaardiger vir Oryx Productions, wat die inhoud vervaardig het vir Qatar Airways se in-vlugkanaal. Analize was ook betrokke by die produksie van korporatiewe videos en grafika vir maatskappye in Dubai. Sy het ook gereeld gewerk as vryskutfotograaf, en was een van die offisiële fotograwe vir Art Dubai, in 2008.
Lesotho
In Lesotho was Analize die produksiebestuurder vir die vollengte film, Kau la Poho II, waarvan Silas Monyatsi die regisseur was en waarin bekendes in Lesotho, soos Sebonomoea Ramainoane, en Gift Leotlela gespeel het.
